Sunday, September 21, 2008

Dirk van Vuuren en Dogter van Sion

Miskien moet ek sommer hier ook ‘n ander saak aanspreek wat vir my ‘n groot kwelling is en my tot groot hartseer stem.
Dit is die dat so baie hul skielik distansieer van Dirk en Die Dogter van Sion – moet vir geen oomblik dink dat wat daar tans gebeur ek eenstemmig mee is nie. Dit het ek ook aan die heel begin (van die hele Lydenburg sage) vir Dirk te kenne gegee in ‘n epos aan hom.
Maar nou word alles waaraan hulle gewerk of geraak het as besoedel beskou soos die Boek van Herinnering, van die Lorber geskrifte en ander stukke wat deur Dirk hulle opgestel en versprei is.

Ons is nou besig om die kind saam met die badwater uit te gooi. Hoeveel van julle het nie geweldige vreugde geput uit die Boek van Herinnering nie, met al die ander verlore boeke wat weer daarin opgeneem is soos Henog en Die WYSHEID van JeHôWshua ben Sirah wat soveel wyshede en leringe bevat. Ja, verseker was daar die verskille oor Paulus maar tog het daar vir baie van ons ‘n nuwe wêreld van geskrifte oopgegaan.
Nou word dit as besoedeld of van die bose beskou omdat ons met Dirk of DvS verskil.

Hoekom verwerp ons nie sommer die hele Bybel nie aangesien die Rooms Katolieke en Satans priesters die Bybel ook onderhandel gehad het tydens die kongres van Niece (1515 as ek reg onthou) en groot veranderinge aangebring het.

Ja, verseker is daar foute in die BvH maar so is daar ook in die Bybel en tog leer die Heilige Gees te midde van die foute die waarheid daaruit.
Ek vir een is dankbaar vir dit wat Dirk en die DvS gedoen het vir die Israeliete in hierdie land en om dit te misken of te verontagsaam is haas onmoontlik. Moenie dit wat goed is verwerp net omdat jy met die persoon verskil nie – dit sal slegs tot jou eie verlies wees.

Die laaste vraag wat ek in hierdie verband wil vra is – waar is die naaste liefde heen wat veronderstel is om in ons as Sy kudde te blom???
Hou ons op om ons naaste lief te hê sodra hy struikel en val of reik ons die hand uit om hom op te help in liefde sonder veroordeling.

Slegs jy kan die vraag vir jouself antwoord.

Die Lorber geskrifte

Ek wil vir geen oomblik die indruk skep dat ek al die geskrifte van Lorber gelees het of hulle totaal verstaan nie. Maar ek wil graag my wedervaringe ten opsigte van die geskrifte met die wat dit wel lees deel, miskien sal dit vir die was soms mismoedig raak met die lees en verstaan van die geskrifte weer nuwe moed gee en inspireer om dit weer op te neem en te lees.

Ek het eers die volle begrip van die liefde begin te verstaan met die lees van Die jeug van Jesus. Ons ken almal die gebod dat ons mekaar moet liefhê soos onsself maar die dieper begrip daarvan is eers vir my oopgebreek tydens die lees van die boek.
Daarna het ek begin met die Openbaring van Johannes en tog moet ek erken dat dit moeilik voedsel is om te verteer.
Na boek 1 het ek dit eers vir ‘n ruk gelos want daar was sekere begrippe wat ek nie kon verstaan nie en dit het my gefrustreerd en mismoedig gelaat.

Ek het die geskrifte vir ‘n wyle eers weer laat staan en gedurende die tyd wat ek dit nie gelees het nie het ek deur die leiding van Vader besef dat ek dalk nog nie reg was vir die ander gedeeltes wat vir my onverstaanbaar was.

Ons Vader sal ons nooit voedsel skenk waarvoor ons nog nie reg is nie en miskien lê die sukses daarvan om dit te verstaan in ‘n paar beginsels opgesluit.
Die eerste is om nie te druk nie want Vader weet wat is die beste vir ons en wanneer is ons reg vir wat – op daardie stadium sal Hy ons terug lei om weer die stukke op te neem en te lees en dan sal dit vir ons verstaanbaar wees.

Ons moet besef dat Vader met ons besig is in ‘n opleidings - of voorbereidings fase sodat ons geskik sal wees vir diens wanneer die tyd aanbreek. Ons elkeen word ook nie teen dieselfde pas en spoed geleer nie want buiten vir dit word ons elkeen vir ‘n ander taak voorberei.

Die tweede is om die lering vanuit die gees te benader en nie vanuit die vlees of materie nie want die materie verstaan nie die lering wat daar vir die gees in die geskrifte in opgesluit is nie.
My eie ervaring is dat ek soms van die stukke lees en vanuit die wêreldse oogpunt maak dit vir my geen sin nie maar die gees binne my herken die lering en verstaan dit – dus verstaan ek dit (in die gees) en tog ook nie (in die vlees). Ek weet dit klink baie snaaks op die oor maar dit is soos baie dinge wat ons as sy kinders deesdae ervaar – daar word vir ons kennis in die gees ingefluister deur die Heilige Gees wat geen sin maak vir die vlees nie.

Miskien wanneer ons meer gees as materie is sal die leringe vir ons in totaliteit sin maak in gees en vlees maar terwyl ons steeds die stryd voer om meer gees te wees as materie sal ons verlief moet neem met die wyse waarop die waarheid vir ons gees ingefluister word.
Die tyd sal wel aanbreek dat ons sal oopbars soos ‘n pragtige blom wat die lieflike geure van die leringe in die wêreld om ons sal versprei en die geur sal die vermoeides lok om te ruik en hul te verbly in die leringe wat Vader in ons opgesluit het vir die regte tyd.
Tans is ons maar nog soos ‘n kleine blomknoppie wat vertroetel en bewaar moet word sodat ons kan blom op die regte tyd.

Die vermoë om voortdurend te waak en te bid en geduldig te wag vir die antwoord van Vader is dit wat ons anders maak want ons weet dat tyd in Sy hand is en dat ons maak klein voor Sy aangesig is.
Laat ons daarom volhard en nie moed opgee nie want in die Lorber geskrifte is daar tog vir ons ontsettend baie kosbaarhede opgesluit wat wag om ontdek te word deur hom wat volhard in sy soeke.Gelukkig het Vader dit goed gedink dat ek gereed is vir die volgende lering en ek het die lees van die geskrifte weer hervat en elke dag ontbloot Hy vir my nuwe waarhede en voed my siel met liefde.

Thursday, September 18, 2008

Marno se vergrote hart


Miskien net eers vertel wie Marno is. Dit is my kleinkind wat nou so 5 maande oud is.

Ons het so week lank vir die kinders en kleinkind gaan kuier. Hier in die middel van die week het die outjie so bietjie olik begin voel, tipiese griep / verkoue simptome. Ons het die naweek huistoe gekom en gedurende die naweek het die kinders die outjie hospitaal toe geneem. Hy is opgeneem en daar is x-strale geneem van sy borskas.
Die x-strale afdeling in die hospitaal word deur ‘n privaat praktyk bedryf en gewoonlik ken die mense hul storie en kan plate ook baie goed lees.

Die dokter aan diens het ook die plate gelees en gesê dat hulle die kleinkind dringend by die spesialis sal moet uitkry want op die x-strale toon dit dat hy ‘n erg vergrote hart het.

Maandag oggend 15 September het ek my seun gebel en hy was toe net oppad van die werk af om dringend die kleinkind deur te neem Pretoria toe na die hart spesialis.
Ek was geweldig bedroef deur die nuus en allerhande gedagtes gaan deur mens se verstand op daardie stadium soos hoe sal dit die outjie se lewe beïnvloed, wat sal sy lewens verwagting wees, sal hy normaal kan grootword.

Ek het toe besluit daar is maar net een uitweg en dit is om my te wend na my Vader wat Koning is van Hemel en Aarde en my droefheid na Hom neem en vra of Hy nie vir die kleinding ‘n wonderwerk wil doen nie.
Ek glo dat Vader die trane op ‘n oupa se gesig en in sy hart gesien het en medelye gehad het met my versoek om die kleinding gesond te maak.

Later die aand het ek van die kinders verneem dat die spesialis gesê het daar is nie ‘n teken van ‘n vergrote hart nie en dis net die een long wat nie lekker is vanweë die brongitis nie.

Toeval – verkeerde diagnose. Soos al voorheen vermeld glo ek nie aan toeval nie. Verkeerde diagnose – hoe is dit moontlik dat die x-strale afdeling en die dokter ‘n vergrote hart sien wat daar nie nou meer is nie? – Hoogs onwaarskynlik.
Ons Almagtige God is steeds ‘n God van wonderwerke en by Hom is niks onmoontlik nie – die vraag is net – is ons bereid om volkome in Hom te glo.
Ek het geglo en ek glo dat Hy ‘n wonderwerk verrig het met die kleinding se hart waarvoor ek Vader ewig dankbaar sal wees.

Dit het tyd geword dat ons sal bid en glo – dan sal die wonderwerke en genade van die hemele vir ons geopen word sodat ons die volheid daarvan sal sien en kan ontvang.

Dankie Vader dat U barmhartig en genadig is en U oor neig na die gebed van ‘n sondaar. Dat U steeds in hierdie dag en tyd wonderwerke verrig en U liefde openbaar aan hulle wat U in opregtheid opsoek.

Hartkloppings en ander verwante pyne

Nou ja, dit was lanklaas wat ek weer hier so ietsie geskryf het oor die lewenslesse wat ek in die loop van my daaglikse wandelinge ervaar. Moet vir geen oomblik dink daar het niks gebeur nie want elke dag is werklik soos ‘n nuwe ervaring en elke dag maak Vader my oë oop vir iets wonderliks wat Hy aan my gedoen het of my geleer het.

Die lewenspad waarop Hy my lei is soos ‘n kleuter wat sopas leer loop en alles wil verken en alles wil sien en ervaar. Elke dag, elke oomblik is vol nuwe ervaringe wat gevul is met die liefde en genade van die Ewige Barmhartige Skepper YHWH.

Donderdag 4 September, dit was so vroegaand, omtrent 8 uur of in daardie omgewing het ek geweldige pyn op my bors gehad. Die pyn was nie die normale soos met ‘n wind wat vassteek nie, die pyn het gepaard gegaan met geweldige hartkloppings wat ek ervaar het en was redelik voelbaar in my linkerarm.
Ek het daar my oë gesluit en vir Vader gevra om die pyn weg te neem want dit was vreeslik seer en het my baie benoud gemaak.
My vertroue het ek volkome in Hom geplaas om die pyn weg te neem want Hy het ons die krag gegee om dit te vra in die Naam van ons verlosser Yahshua.

Dit was binne sekondes en die pyn was weg – so asof ek geen pyn eers gehad het nie.
Nou dis nou hier waar die ongeloof van die menslikheid weer natuurlik inkom want ek kon dit skaars glo dat dit gebeur het maar die lofprysing en die vertroue het standvastig bly staan (dis glo ek is geskenk deur God en nie uit my eie krag nie)

Die pyn was weg maar die hartkloppings was steeds daar. Nou, vol vertroue in die krag van die Almagtige het ek weer God genader en gevra om asseblief die hartkloppings ook weg te neem want dit is baie onaangenaam en as die hartkloppings veroorsaak word deur iets wat ek verkeerd doen moet Vader dit asseblief aan my uitwys sodat ek daarmee kan breek.

Nodeloos om te sê, die hartkloppings het onmiddellik opgehou en tot op hede, dis nou twee weke het ek nog glad nie weer hartkloppings gehad nie. Ek is steeds besig met die soektog om te bepaal wat dit is wat ek moet vermy of laat staan. Maar tog is daar diep binne in die gees die wete wat die probleem is – die vertroue moet volkome wees in die Almagtige Skepper van Hemel en Aarde en getrou moet daar geluister word na Sy influisteringe en leringe en dan alleenlik sal ons die heerlikheid van Sy seëninge ervaar.

Ja, sekerlik sal daar baie wees wat sal sê, nee wat man dis maar bloot toevallig dat die pyn en die hartkloppings opgehou het – vir die wil ek sê – ek glo nie aan toevallig nie en vir my het Hy dit gedoen, ek hoef nie ander te oortuig nie want Hy het dit vir my gedoen omdat Hy my liefhet en my pyn aanskou het.

Miskien is die les vir ons almal hierin dat ons baie meer op Hom moet vertrou, dat ons na Vader moet gaan met al ons skete en kwale maar dan moet ons ook nie die lofprysing en die eer agterweë laat nie. Want Hy is nie soos die huisdokter wat ek net gou gaan soek wanneer ek Hom nodig het nie – dis ‘n lewenslange verhouding van waaragtige liefde, vergiffenis en genade wat Hy aan ons openbaar en daarom moet ons Hom opreg liefhê met ons gebreke en al.

Weereens sal ek Vader altyd bedank vir dit wat U aan my doen en gedoen het Vader want U is my bruidegom wat ek verwag met ‘n groot verlange wanneer U my kom haal. Hoe sien ek tog nie uit na die heerlik bruilofsmaal wanneer U my sal omvou in U arms en my klee in die Heerlikheid van U genade.