Thursday, September 18, 2008

Hartkloppings en ander verwante pyne

Nou ja, dit was lanklaas wat ek weer hier so ietsie geskryf het oor die lewenslesse wat ek in die loop van my daaglikse wandelinge ervaar. Moet vir geen oomblik dink daar het niks gebeur nie want elke dag is werklik soos ‘n nuwe ervaring en elke dag maak Vader my oë oop vir iets wonderliks wat Hy aan my gedoen het of my geleer het.

Die lewenspad waarop Hy my lei is soos ‘n kleuter wat sopas leer loop en alles wil verken en alles wil sien en ervaar. Elke dag, elke oomblik is vol nuwe ervaringe wat gevul is met die liefde en genade van die Ewige Barmhartige Skepper YHWH.

Donderdag 4 September, dit was so vroegaand, omtrent 8 uur of in daardie omgewing het ek geweldige pyn op my bors gehad. Die pyn was nie die normale soos met ‘n wind wat vassteek nie, die pyn het gepaard gegaan met geweldige hartkloppings wat ek ervaar het en was redelik voelbaar in my linkerarm.
Ek het daar my oë gesluit en vir Vader gevra om die pyn weg te neem want dit was vreeslik seer en het my baie benoud gemaak.
My vertroue het ek volkome in Hom geplaas om die pyn weg te neem want Hy het ons die krag gegee om dit te vra in die Naam van ons verlosser Yahshua.

Dit was binne sekondes en die pyn was weg – so asof ek geen pyn eers gehad het nie.
Nou dis nou hier waar die ongeloof van die menslikheid weer natuurlik inkom want ek kon dit skaars glo dat dit gebeur het maar die lofprysing en die vertroue het standvastig bly staan (dis glo ek is geskenk deur God en nie uit my eie krag nie)

Die pyn was weg maar die hartkloppings was steeds daar. Nou, vol vertroue in die krag van die Almagtige het ek weer God genader en gevra om asseblief die hartkloppings ook weg te neem want dit is baie onaangenaam en as die hartkloppings veroorsaak word deur iets wat ek verkeerd doen moet Vader dit asseblief aan my uitwys sodat ek daarmee kan breek.

Nodeloos om te sê, die hartkloppings het onmiddellik opgehou en tot op hede, dis nou twee weke het ek nog glad nie weer hartkloppings gehad nie. Ek is steeds besig met die soektog om te bepaal wat dit is wat ek moet vermy of laat staan. Maar tog is daar diep binne in die gees die wete wat die probleem is – die vertroue moet volkome wees in die Almagtige Skepper van Hemel en Aarde en getrou moet daar geluister word na Sy influisteringe en leringe en dan alleenlik sal ons die heerlikheid van Sy seëninge ervaar.

Ja, sekerlik sal daar baie wees wat sal sê, nee wat man dis maar bloot toevallig dat die pyn en die hartkloppings opgehou het – vir die wil ek sê – ek glo nie aan toevallig nie en vir my het Hy dit gedoen, ek hoef nie ander te oortuig nie want Hy het dit vir my gedoen omdat Hy my liefhet en my pyn aanskou het.

Miskien is die les vir ons almal hierin dat ons baie meer op Hom moet vertrou, dat ons na Vader moet gaan met al ons skete en kwale maar dan moet ons ook nie die lofprysing en die eer agterweë laat nie. Want Hy is nie soos die huisdokter wat ek net gou gaan soek wanneer ek Hom nodig het nie – dis ‘n lewenslange verhouding van waaragtige liefde, vergiffenis en genade wat Hy aan ons openbaar en daarom moet ons Hom opreg liefhê met ons gebreke en al.

Weereens sal ek Vader altyd bedank vir dit wat U aan my doen en gedoen het Vader want U is my bruidegom wat ek verwag met ‘n groot verlange wanneer U my kom haal. Hoe sien ek tog nie uit na die heerlik bruilofsmaal wanneer U my sal omvou in U arms en my klee in die Heerlikheid van U genade.