Wednesday, June 4, 2008

Xenophobia

Volgens die woordeboeke: ‘n vrees of haat vir vreemdelinge of volksvreemdes.

Die afgelope Sondag is die eerste kleinkind gedoop en die predikant se preek het gehandel rondom xenophobia.

Die predikant is maar aan die liberale kant en het nie ‘n probleem met volks vreemdes nie.
Die kerk waarvan hy predikant is het ook nie ‘n probleem met ander volke nie en is tans in die proses om met hul saam te smelt. Die verbastering van wit en swart word as ‘n natuurlike proses aanvaar sonder enige veroordeling daarvan.

Hy het voorgelees uit Efesiërs hoofstuk 2.
Hieruit het hy probeer bewys dat ons almal een is en dat die middelmuur verwyder is tussen die besnede en die onbesnedene. Die gedeelte word dan ook aangewend om te beweer dat die Israeliet en die nie-Israeliet nou dieselfde is. Hy gebruik net die term Jodd en Nie-Jood)

Ongelukkig verstaan die mense nie die begrip besnedene en onbesnede nie want die onbesnedene in die spesifieke gedeeltes van die Skrif verwys na die tien verlore stamme wat in ballingskap weggevoer is na Assirië en wat later daarvandaan weg beweeg het na die Europese lande toe. Die besnydenis onder hulle het in onbruik verval en daarom is daar na hulle verwys as die onbesnedenes of heidene.

Gedurende sy preek het ek maar redelik vies geraak vir die predikant knapie want ek kon duidelik die sinspeling van vrede en broederskap met alle volke agterkom wat hulle verkondig.

Maar agterna moes ek weer gaan terugsit en dink – Siener se voorspelling van al die volksvreemdes wat in Suid Afrika gaan vergader, in die wit tente in die Karoo. Hoe gaan ons optrede teenoor die volksvreemde volksgenote wees. Sal ons hulle met ope arms ontvang as mede Israeliete of sal ons ou koeie uit die sloot grawe soos dit wat hulle ons voorouers alles aangedoen het bv. die Engelse.

Gaan ons ook xenophobies raak of gaan ons hulle ontvang met die liefde en ontferming soos wat Yahshua van ons vereis.

Sal ons kan vergewe en vergeet?

Sal ons ons mede Israeliet broers met ope arms in ons midde verwelkom?

Mag Yahweh ons leer om onvoorwaardelik lief te hê en die hand van vriendskap en hulp uit te steek na ons mede Israeliet broer en suster.

Monday, May 19, 2008

Pasga Reën se Seën


Ek het nou alreeds vertel van die Week van Ongesuurde Brode wat vooraf gegaan word deur die Pasga.
Dit is vir my seker die belangrikste fees en het elke keer so geweldige betekenis vir my as sondaar wat gered is deur die bloed van ons Enigste Middelaar, Yahshua.
Die grootste geskenk wat enige iemand my nog ooit kon gee – die Ewige Lewe – wat niks of niemand van my kan wegneem nie.

Die jaar was ‘n effense teleurstelling omdat ek allenig die Pasga moes vier, vriende wat dit saam sou kom vier moes op die nippertjie onttrek vanweë ander verpligtinge en my een seun wat die Pasga gewoonlik saam met my vier was in die koshuis.
In elk geval – niks sou my van stryk bring om die Pasga te vier nie omdat die brood en die wyn so ‘n verblydende boodskap vir my inhou veral in die dae ook waarin ons leef.

Miskien moet ek dalk eers verduidelik hoe ons die Pasga vier. Daar word die dag voor die son sak ‘n vertrek in die huis of woonstel voorberei vir die Pasga. Tafel met stoele, die waskom vir die voete en handdoeke. Die ongesuurde brode word gemaak en die wyn in die beker gegooi en op die Pasga tafel geplaas.

Die Pasga word geopen met gebed en sang waarna die persoon wat die Pasga lei voorlees uit toe Skrif hoe Yahshua die voete van Sy dissipels gewas het tydens die laaste Pasga maal. Die voorganger begin dan om die persoon langs hom se voete te was in die wasskottel en af te droog. Die persoon wie se voete gewas is was weer die een langs hom / haar se voete en so gaan ons in die rondte totdat almal se voete gewas is.
Tydens die seremonie word die les ook geleer dat die een persoon nie belangriker as die ander is nie en dat ons daar is om mekaar te dien soos Yahshua ook Sy dissipels gedien het deur die gebaar.

Daarna word die Pasga voorgesit met die breek van die brood en die drink van die wyn.

Tydens Pasga die jaar terwyl ek so by myself sit en die opening van die Pasga doen deur gebed en sang (by myself – gelukkig was daar niemand anders wat kon kla dat my sang vals is nie en ek weet my Vader gee nie om nie want Hy sien tot hier diep in my hart), het ek gewonder hoe nou gemaak met die voete was seremonie want dit is net ek alleen.

Toe dit by die voete was seremonie kom het dit skielik begin reën en ek moes gou hardloop om skottels te gaan neersit omdat daar een plek in my kuier area is waar die dak redelik kwaai lek. (Die Pasga het ek die jaar gehou in die woonstel op die erf aangesien dit nou eers leeg is en dit baie lekker en ideaal is vir die Pasga.)
Ek het maar baie vinnig gehardloop en die skottels gaan neersit en was innerlik bietjie ontsteld omdat die reën eintlik nou inbreek gemaak het op die Pasga viering en my aandag daarvan afgetrek het.

Met die bakke geplaas onder al die lekke, hardloop ek weer terug woonstel toe en so paar tree voor die woonstel se deur stop ek skielik en daar is ‘n groot waardering vir die reën wat op my kop, gesig en hele liggaam val.
Skielik besef ek - maar dit is Vader se voete was seremonie vir my – deur Sy reën was Hy nie net my voete nie maar my hele liggaam.

Die woorde van Petrus aan Yahshua soos opgeteken gevind in:
(Joh. 13:9) Simon Petrus sê vir Hom: Yahshua, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof.
het skielik vir my nuwe betekenis gekry.

My verlosser het op die Pasga nie net my voete gewas nie maar ook die hande en die hoof.

Nodeloos om te sê – al was ek alleen die Pasga was dit ‘n wonderlike ervaring en ook ‘n versekering dat daar waar ons of ek allenig besig is om Hom te dien, daar is ek nooit alleen nie.

Prys Sy wonderlike naam vir wonderdade wat Yahweh steeds vandag nog aan ons doen.

Wednesday, April 23, 2008

Week van Ongesuurde Brode en die Hamburger Buns

Die week vanaf Saterdag (19 April 2008) aand na sononder tot Saterdag (26 April 2008) sononder is die week van Ongesuurde Brode. Die week volg direk op die Pasga wat plaasgevind het na sononder op Vrydag 18 April 2008.

Gedurende die week mag jy geen produkte met suurdeeg in gebruik nie en slegs ongesuurde brood word ge-eet (sien Exod 12 : 20 en 1 Kor 5 : 7)
Die les hierin is dat die mens die suurdeeg (die sonde) uit sy lewe moet kry want soos Yahshua ons geleer het is dat 'n klein bietjie suurdeeg deurtrek vinnig die hele hoop deeg en so is dit ook met sonde in ons lewe. 'n "Klein" sondetjie deurtrek baie vinnig ons hele lewe en daarom is daar nie 'n ding soos 'n klein of groot sonde nie - as jy aan een gebod skuldig is het jy die hele wet oortree.

Jammer, ek moes net eers so bietjie agtergrond gee ten einde die strekking van die les te verstaan.
Ek is die tans die enigste in my huishouding wat die week van Ongesuurde Brode onderhou en gisteraand het ek vinnig vir almal kos gemaak. Die besluit was maklik - hamburgers - dis vinnig, maklik en min skottelgoed (dis mos hoe ons mans dit doen, as jy alles in een pot kan maak des te beter - ek dink die rede daarvoor is omdat ons nie kan multi task nie en dis makliker om een pot dop te hou op die stoof as 5)

Nadat al die patties en uie klaar gebak en gebraai is het ek die burgers net aanmekaar geslaan - die 2 seuns het eers rondgeloop (was eintlik verbaas want gewoonlik kan hulle mos nie wag vir die kos nie - klink mos met elke ete of hulle 'n jaar laas kos gehad het) en ek het hulle sin in die mikrogolf gebêre. Die vrou sin vir haar gegee. Ingedagte het ek begin om myne te maak en net voordat ek die buns sny besef ek maar dit is die week van Ongesuurde Brode en kan nie die buns gebruik vir my hamburgers nie.
In der haas het ek maar gou vir my ongesuurde broodjies gemaak om vir my hamburgers daarmee gemaak.

Later terwyl ek mooi oor die gebeure nadink het die volgende les daaruit vir my na vore gekom:
Die werkery met die ander se buns vir hulle burgers het my laat dink dat ons elke dag omring is deur die sondes en dit is so naby soos slegs 'n verkeerde gedagte. Ons moet voortdurend op ons hoede wees dat die sondes ons nie onbewustelik oorval terwyl ons so ingedagte besig is met die wêreldse dinge nie want dit kan so maklik gebeur - soos wat ek amper vir my burgers gemaak het met die gewone buns. Dit sou soveel makliker gewees het as om eers ongesuurde brode te maak vir my burgers. Maar die lewe gaan nie oor die maklike keuses nie maar oor die regte keuses.
Vader het in Sy grote wysheid aan ons die gawe gegee om keuses te maak - ons kan kies om te sondig of nie. Die bewys van ons liefde vir Hom lê in die keuse wat ons maak.
Ons kan nie tydens ons aardse bestaan van die sonde ontvlug nie maar ons kan die keuse maak om nie daaraan deel te hê nie.
Die lesse word soms op snaakse wyses aan ons oorgedra maar daar is groot dankbaarheid dat Sy stem nie stil is in ons siel nie.