Wednesday, October 15, 2008

Opvolg op Hartkloppings


Laas het ek vertel van die hartkloppings wat my so geteister het en hoe ek Vader gevra het om die benoudheid en hartkloppings weg te neem.
Dit was weg vir ‘n wyle en een aand is dit skielik weer terug.

Eerste reaksie – vertwyfeling – hoe is dit moontlik? Vader het my dan genees en hier is dit weer terug – was ek werklik genees of het ek my net verbeel.
(snaaks hoe die mens se eerste reaksie gewoonlik is – “Maar het God my nou in die steek gelaat?)

Dankbaar het die vaste geloof in Yahweh gou weer alle vertwyfeling verdryf en ek moes Vader vra wat die probleem was.
Onmiddellik het die “gedagte” my te binne geskiet – die drankie wat ek in die aande na werk drink wanneer ek by die huis kom.

Nou, ek is nie ‘n groot drinker nie maar geniet my een soms twee sopies brandewyn in die aand wanneer ek van die werk af kom. Dit laat my lekker ontspan en mens vergeet sommer gou van al die probleme wat mens deur die dag ondervind het.

Saam met die “bewus wording” dat dit moontlik die brandewyn is wat die hartkloppings aanbring was daar ook die lering dat Hy soms ons liggaam gebruik as waarskuwings meganisme teen goed wat nie goed is vir ons of inmeng in ons verhouding met die Almagtige.

Ek het die volgende aand glad nie ‘n drankie gedrink nie en daar was geen hartkloppings nie. Die daaropvolgende aand besluit ek om weer ‘n drankie te drink om te bevestig dit wat aan my “ingefluister” is. (ai, hoekom mens nie maar net eenvoudig kan glo nie maar ons wil mos voortdurend konkrete bewyse kry)
Die keer was die hartkloppings erger as die vorige kere en dit was my konkrete bewys dat dit wat Vader aan my openbaar het wel so is.

Die brandewyn het ek nou maar liewers heel laat vaar en daarmee saam is die hartkloppings ook weg. Daarvoor loof ek die Ewige, Almagtige en Barmhartige God vir Sy genade.

Afleiding: Die brandewyn het begin om ‘n struikelblok te raak want dit het my lekker laat ontspan na ‘n hard lang dag se werk en ek moes my eerder verheug in God se Liefde en Genade en Hom dank betuig dat ek steeds kan werk.