Monday, August 18, 2008

Genade aan ons.


Vader YHWH in ons hart is daar die voortdurende verlange na U maar hoe moeilik is dit tog nie om dit te omskryf nie. Dit is nie die verlange soos na ‘n vriend of na ‘n vrou of na ‘n kind nie. Dis is ‘n volkome verlange soos iemand wat afgedwaal het en nou in duisternis vasgevang is. Die nabyheid van U, dit gee Lig, dit verlig, dit deurskyn die siel en maak ons ‘n ligwese soos U, Vader.
Dis is ‘n oer oue verlange wat diep in die hele wese gesetel is. Dis nie net soos die gewone verlange wat gevoel word in die hart nie maar omvang die hele wese van my as mens. Elke sel van my, elke gedagte verlang na die volheid van U Glansryke nabyheid, Vader.

Ek is onvolledig mens sonder die volkome nabyheid van U, maar besef ook dat die volkome nabyheid en liefde nie vir hierdie aardse bestaan beskore is nie.

Wanneer ons weer vereenselwig is met U in U Koninkryk sal ons slegs eers weer die volheid van die volkome liefde en nabyheid kan smaak.

Vader, ons is vasgevang in hierdie aardse liggame waarin ons ‘n sekere taak moet vervul. Steeds is die taak vir ons nog nie baie duidelik nie maar soms sien ons soos deur ‘n wasigheid waarheen ons opdrag lei. Naamlik: om die verlore siele te vertroos en naby te staan in die tye wat vir ons voorlê. Sodra ons dink dat ons die prentjie heeltemal verstaan word die gordyn van wasige geheimenis weer voor ons oë toegemaak.

Vader, deur die voor kennis wat U ons skenk weet ons dat die taak groot gaan wees maar dat U ons die krag sal gee om te getuig van die Ewige Glansryke God. Ons mond sal U open om te spreek die woorde wat U in ons mond lê.

Sommige woorde sal van vertroosting wees om die medemens te vertroos in hul smarte en die liefde genade weg van YHWH aan hul te openbaar.

Stellig sal daar ook die wees wat sal spreek teen die booshede van die wêreld en sy nuwe leiers wat die mensdom met verleiding die afgrond sal inlei sonder dat daar iemand is wat red.

Vader, selfs hier lig U soms die sluier om te sien in die verborgenheid, al is dit soms net vlugtig en miskien ook vir goeie rede.

Want dit wat voorlê vir U kinders is ‘n grusaamheid wat ongekend sal wees aan die “moderne” beskawingspeil van die mens.
Soos ‘n wrede dier sal hul jag maak op U kinders en hul liggame oorgee om verskeur te word deur hulle wat belas is met die gees van die duisternis.
In strate sal die bloei vloei van die regverdiges te midde van die gejuig van die mense kinders omdat hulle wat veroordeel het nie meer kan oordeel nie.

Die angel van die “gestuurdes” sal hulle nie meer teister nie maar die bloed sal getuig van hul geregtigheid en voortdurend roep tot die lewende God van Hemel en aarde wat die bloed sal eis van die hande van hul moordenaars.

Gee ons krag YHWH om staande te bly te midde van dit wat vir ons voorlê want so is dit bestem.

Wat sal dan tog die prys van my lewe wees voor U aangesig te midde van U ewige reddende genade. Waarvoor sal ons bang en benoud wees terwyl ons staan in die teenwoordigheid van die Ewige.

Die rede vir die wasigheid voor die prentjie – sodat U dienskneg nie onnodig te benoud raak nie want op die regte tyd sal U aan ons die krag skenk om die onafwendbare te deurstaan sonder benoudheid of vrees.

Dankie YHWH dat U genadig en barmhartig is, Vader skenk my die volheid van geloof om nooit te twyfel of vervaard te raak nie maar om ons volle en vaste vertroue te plaas in die hand van die Lewende en Waaragtige Skepper van hemel en aarde.